Souttert Featured

Souttert – 16 Maklike Souttert Resepte (KORSLOSE & BASIESE RESEPTE)

 

Heerlike souttert resepte wat sommer vinnig in ‘n japtrap gemaak kan word. Hierdie maklike souttert resepte sluit in maalvleis, tuna, biltong, ham, boeliebeef as die hoof bestanddeel.

So hier gaan ons: Lip Lekker Resepte se top 16 Souttert Resepte:

Souttert image
Souttert

1.Suiker Mielie en Spek Tert:

Kors Bestanddele:

750ml Koekmeelblom

5 ml Sout

250ml Margarien

2 Eiergele, geklits

250ml Room

8ml Kremetart

Vulsel Bestanddele:

25ml Margarien

40ml Koekmeelblom

300ml Warm melk

Sout en peper na smaak

Knippie rissiepoeier

2ml Mosterdpoeier

100ml Cheddarkaas, gerasper

410g(1 blik) Geroomde suikermielies

10 Swoerdlose spekvleisrepies

Kors Metode: 

  • Sif die koekmeelblom en sout saam en vryf die margarien met die vingerpunte in.
  • Meng die eiergele en room goed en voeg dit by die koekmeelblommengsel.
  • Maak dit aan tot ‘n stywe deeg. Rol die deeg dun uit en strooi die kremetart bo-oor.
  • Vou die deeg in drie en verkoel dit in die yskas.
  • Rol dit weer dun uit en voer ‘n gesmeerde tertbord met ‘n deursnee van 200mm daarmee uit.

Vulsel Metode:

  • Smelt die margarien, voeg die koekmeelblom by en roer tot glad.
  • Voeg die melk, sout, peper en rissiepoeier en mosterdpoeier by en roer oor lae hitte totdat die sous dik is. Verwyder van die hitte en vou die helfte van die kaas en suikermielies in.
  • Snipper 5 van die spekvleisrepies en braai dit tot bros. Voeg dit by die suikermieliemengsel en meng.
  • Skep die vulsel in die rou tertkors, maak dit gelyk bo-op en strooi die res van die kaas bo-oor.
  • Garneer die tert met die 5 heel spekvleis repies Bak die tert 30 minute lank in ‘n voorverhitte oond by 190°C.

Bedien die tert warm.

2.Spek en Tamatie Tert:

Bestanddele:

250ml Koekmeelblom

250ml Gerasperde kaas

5ml Bakpoeier

5ml Mosterdpoeier

Knypie rissiepoeier

120g Harde botter/margarien, gerasper

2 Eiers, geklits

250ml Melk

2 Spekrepe, gekap

2 Tamaties, sap en pitte uitgedruk

Suurdeegekstrak (Marmite)

Metode: 

  • Meng meel, helfte van kaas, bakpoeier, mosterdpoeier, mosterdpoeier en rissiepeper.
  • Voeg gerasperde botter of margarien by. Meng eiers en melk en voeg by.
  • Roer met ‘n mes. (Die beslag sal sag en klonterig wees)
  • Skep in ‘n tertbord en bak vir 10 minute lank by 180°C. Verlaag temperatuur tot 160°C en bak nog 10 minute lank.
  • Braai intussen die spek totdat die vet begin uitbraai, voeg tamatie by en roerbraai tot effens verlep.
  • Smeer ‘n bietjie Marmite oor warm tertkors en skep tamatie, spek en res van kaas daarop.
  • Plaas 5 minute lank terug in oond of onder die oondrooster om kaas te smelt. Sit warm voor.

Korslose Souttert Resepte sluit die volgende in:

3.Korslose Ham en Kruie Souttert:

Bestanddele:

250 ml Gekapte pietersielie

125 ml Gekapte sprietuitjies

62 ml Gekapte oreganum

150 g Gaar ham, in blokkies gekap

3 Eiers

250 ml Melk of joghurt

5 ml Sout

2,5 ml Vars gemaalde swartpeper

30 ml Botter

250 ml Vars broodkrummels

125 ml Gerasperde kaas

Metode:

  • Kap die kruie baie fyn in ‘n voedselverwerker. Voeg die ham by en kap grofweg.
  • Voeg die eiers, melk, sout en peper by en meng net deur.
  • Smeer ‘n ronde tertbord van 25 cm in deursnee mildelik met botter.
  • Sprinkel die helfte van die broodkrummels in die bak.
  • Kantel en skud om die kante en boom goed te bedek. Gooi die eiermengsel in die bak.
  • Smelt die orige botter, voeg die res van die broodkrummels by, en meng deur. Voeg dan die kaas by en meng deur.
  • Sprinkel die krummel mengsel oor die eiermengsel in die bak. Bak 30 minute lank by 180°C tot net gestol en effens goud bruin bo-op.                

4.Korslose Spek en Worsie Tert:

Bestanddele:

Botter om ‘n tertbord van 22 cm te smeer

3-4 eetlepels Vars volgraan-broodkrummels om in bord te sprinkel

125 g Swoerdlose ontbytspek, gekap

15 ml Olie

1 Klein uitjie, baie fyn gekap

1 x 200-g-blikkie Weense worsies in dun ringetjies gesny

30 ml Gekapte pietersielie

5 ml Gemengde droë kruie

250 ml Beleë Cheddar-kaas, gerasper

375 ml Melk

3 Ekstra groot eiers

45 ml Meel

5 ml Bakpoeier

5 ml Gegeurde sout (sout en peper)

5 ml Mosterdpoeier

Metode:

  1. Braai die ontbytspek in die olie tot die vet begin uitbraai. Voeg die ui by en braai tot dit sag en glansend is.
  2. Voeg die worsies, pietersielie en kruie by. Sprinkel die kaas in die voorbereide bak.
  3. Skep die vleismengsel eweredig oor die kaas.
  4. Klop die melk, eiers, meel, bakpoeier en geurmiddels deeglik saam.
  5. Giet oor die vulsel. Bak ongeveer 35 minute lank in ‘n matige oond by 180°C tot mooi bruin en gestol.

5.Korslose Kaas Tert

Hierdie is een van die maklike souttert resepte wat ek ken.

 Bestanddele:

15ml Botter of margarien

6 Eiers, geklits

125ml Gerasperde Cheddarkaas

2 Tamaties, geskil en grof gekap

5ml Sout

1ml Varsgemaalde swartpeper

12.5ml Vars gekapte pietersielie

1 Spekvleisrepie, swoerd verwyder & gekap

Metode:

  • Voorverhit die oond tot 180°C.
  • Verhit die botter of margarien in ‘n swaarboombraaipan.
  • Meng die res van die bestanddele en voeg dit by die gesmelte botter of margarien.
  • Meng alles goed saam. Gooi die mengsel uit in ‘n goed gesmeerde oondskottel en bak dit 35-40 minute lank op die middelste oondrak totdat dit ferm is.

 6.Maalvleis Souttert:

Kors Bestanddele:

250ml meel
5 ml bakpoeier
knippie sout
60 ml (50g) mrgarien
1 eier
15 ml kookolie

Vulsel Bestanddele:

250g maalvleis
10 ml Kookolie
250 ml melk
2 eiers
koppie kaas ( hou eenkant)
1 Ui fyngesny
25 ml mayo
5 ml sout

Kors Metode:

  1. Sif die meel, bakpoeier en sout saam.
  2. Vryf margarine in tot goed gemeng.
  3. Klits eier en olie saam.
  4. Voeg by en meng tot deeg. Druk dun in tertbord.

Vulsel Metode:

  1. Braai maalvleis en ui in die olie tot net sag en laat afkoel.
  2. Klits melk en eier saam.
  3. Voeg vleis en res van die bestandele saam en meng.
  4. Bak vir so 45 min by 180°C of tot gaar. Sprinkel kaas oor en laat smelt.
  5. Bedien saam vars groenslaai of lekker gekookte groente.

7.Tuna Souttert:

Hierdie is een van die soutterte wat ek vanmiddag opgespoor het en probeer het, baie vinnig en maklik, ek het hom so bietjie aangepas. Dit is ‘n klein tertjie, so ek stel voor mens maak hom dubbel of bak in nog ‘n kleiner pannetjie as julle net twee is. Die tert is redelik plat, maar baie lekker.

Bestanddele:

4 porsies
100 g uie, gekap
20 g margarine/ olyf olie
170 g tuna, gevlok (1 blikkie)
80 g Cheddar-kaas, gerasper (of helfte feta)
100 g sampioene, gekerf
Halwe koppie gaar rys
3 gerkins fyn gesny
knippie rooipeper
40 g afgeroomde melkpoeier en water om 300 ml op te maak of room
2 eiers
5 ml mosterdpoeier
30 g koekmeel
5 ml sout
vars gemaalde swartpeper
5 ml droë gemengde kruie

Metode:

  • Spuit ‘n 20-cm-tertbak met kleefvrye spuitmiddel – verhit oond tot 180°C.
  • Sorteer uie in margarien tot sag. Voeg sampioene by en braai liggies. Haal van die warm plaat af.
  • Voeg die res van die bestandele by die uie mengsel. Klop melk en eiers saam.
  • Meng mosterdpoeier, koekmeel, sout, peper en gemengde kruie saam.
  • Roer eiers en melk geleidelik by meelmengsel, klop om klonte te voorkom.
  • Skep in die tertbak , besprinkel met paprika en bak sowat 40 minute lank in die middel van die oond tot gestol.

Mikrogolf-metode:

  • Soteer uie en margarien 1-2 minute op hoog tot sag.
  • Meng al die bestanddele saam soos beskryf en sprinkel met paprika of mikrogolf- verbruiningsmiddel.
  • Mikrogolf 12-15 minute op medium tot gestol.

Bron:
Foto en aangepaste resep:  Rina Kleinhans.

8.Boeliebeef Souttert:

Hierdie is die basiese souttert resep. Hy is so maklik en flop vry.

Bestanddele:

3 snye witbrood, korsies verwyder

375ml melk

1x300g boeliebief

1 ui, gekap

15ml olie

250ml gerasperde kaas

3 ekstra groot eiers, geklits

Metode:

  1. Voorverhit oond tot 190°C en smeer ‘n medium tertbord met botter of bespuit met Spray & Cook.
  2. Meng al die bestanddele en keer uit in tertbord.
  3. Bak vir 30-45 minute tot goudbruin en gestol. Bedien met ‘n slaai.

9.Eier Souttert:

Bestanddele:

4 tamaties geskil, en in dik skywe gesny

1 ui, fyn gekap

25ml vars pietersielie, fyn gekap

6 hard gekookte eiers, afgedop, in skywe gesny

50ml droë broodkrummels

12.5ml botter of margarien

6 eiers, geklits

5ml sout

1ml varsgemaalde swartpeper

250ml room

100ml bier

1ml rooipeper (opsioneel)

Metode:

  • Voorverhit die oond tot 180°C.
  • Rangskik die tamatieskywe op die boom van ‘n goed gesmeerde oondskottel.
  • Strooi die ui en pietersielie oor die tamatieskywe en rangskik die eierskywe bo-op.
  • Strooi die broodkrummels oor die eierskywe en stip dit met die botter of margarien.
  • Klits die res van die bestanddele saam en gooi dit versigtig oor die inhoud van die oondskottel.
  • Bak dit 45-50 minute lank op die middelste oondrak totdat dit ferm is. Bedien dit warm met ‘n mengelslaai.

10.Kaas en Ham Tert:

Bestanddele:

30 ml botter

30 ml koekmeel

10 ml gegeurde seesout

‘n knippie rooipeper

5 ml droë mosterd

375 ml karringmelk

250 g ham, of weense worsies in dun repies

250 ml cheddar kaas, grof gerasper

30 ml fyn gekapte pietersielie

3 eiers, geklits

pasteideeg

Metode:

  • Bak die pasteideeg 10 minute sonder vulsel by 220°C.
  • Verhit die oond tot 180 C.
  • Meng die botter, meel, sout, rooipeper en mosterd oor lae hitte.
  • Roer die karringmelk by en meng glad. Roer en kook 2 minute, verwyder van die hitte. Laat effens afkoel.
  • Roer die ander bestanddele by.
  • Skep die vulsel in die vooraf gebakte pasteikors.
  • Bak 45 minute tot mooi bruin en pofferig.

 11.Mossel en Sampioen Tert:

Bestanddele:

30ml botter

1 ui, gekap

170 g sampioene, gekap

85 g gerookte mossels, grof gekap

250ml gerasperde cheddarkaas

knypie rooipeper

2 groot eiers

125 ml melk

5 ml mosterdpoeier

30 ml koekmeelblom

geuropwekker (Aromat)

varsgemaalde swartpeper

Metode: 

  • Smelt botter in ‘n pot. Soteer ui daarin tot sag.
  • Meng ui, sampioene, mossels, kaas en rooipeper liggies saam en plaas in ‘n gesmeerde tertbak.
  • Klits eiers, melk, mosterdpoeier, meel, geuropwekker en peper saam tot goed gemeng.
  • Giet melkmengsel oor vismengsel in tertbak.
  • Bak in ‘n voorverhitte oond teen 180°C vir 30 minute of tot gestol en goudbruin.

12. Aspersie Tert:

Hierdie is een van die biltong souttert resepte wat jul dalk mag geniet.

Kaas Kors Bestanddele:

250ml koekmeelblom

125ml gerasperde kaas

125ml gerasperde botter

Metode:

  • Meng al die bestanddele tot ‘n stywe deeg.
  • Druk vas op bodem en kante van bak met ‘n deursnee van 220mm.
  • Vul met die volgende vulsel:

Vulsel Bestanddele:

100g biltong, in dun repies (of met groente)

4 eiers

300ml ongegeurde jogurt

250ml gerasperde kaas

30ml gerasperde parmesaankaas

80ml melk

340g (1blik) aspersielote, gedreineer

paprika & 30ml parmesaankaas (garnering)

Metode:

  • Strooi biltong op tertkors.
  • Klits eiers, jogurt, kaas, parmesaan-kaas en melk goed en gooi oor die biltong.
  • Pak aspersies bo-op eiermengsel en strooi res van parmesaankaas bo-oor.
  • Bak 45 minute by 180°C tot gestol.

13.Afrika Tert:

Kors Bestanddele:

70ml botter gesmelt

250ml Bacon Kips koekies, fyngemaak

Vulsel Bestanddele:

2 bosse spinasie, skoongemaak,fyn

3 repies spekvleis, grof gekap

gekap en gaar gestoom

1 middelslag ui, fyn gekap

250g geroomde maaskaas

350ml suurroom

4 ekstra-groot eiers, geklits

125g fetakaas

parmesaankaas

Metode:

  • Voorverhit die oond tot 150°C en smeer ‘n 20cm-losboomkoekpan met botter of bespuit met kleefwerende kossproei.
  • Meng die botter en koekiekrummels goed en druk op die bodem en effens teen die kante van die voorbereide koekpan vas. Hou eenkant.
  • Dreineer die gestoomde spinasie goed en druk dan in jou vuis droog om van alle vloeistof ontslae te raak. Braai die spek tot halfgaar, voeg die uie by en braai tot die uie sag en geurig is.
  • Klits die maaskaas, suurroom en eiers goed saam. Roer die spek en uiemengsel asook die spinasie by.
  • Roer die fetakaas in en giet in die voorbereide kors.
  • Bak 1¼ uur lank tot ferm en goudbruin. Sprinkel ‘n bietjie parmesaankaas oor en laat staan vir omtrent 30 minute om stewig te raak.
  • Bedien louwarm of teen kamertemperatuur.

14.Plain Jane se Souttert:

Bestanddele:

3 dik snye brood gekrummel

500ml melk

25ml botter

375ml gerasperde Cheddarkaas

1 blikkie Weense worsies, in stukkies gesny

1 pakkie spekvleis, in stukkies gesny

2 groot uie, fyn gekap

4 eiers geklits

1 teelepel gemengde kruie

knippie sout

knippie rooi peper

20ml mosterdpoeier

1 blikkie geroomde sampioene (opsioneel)

Metode:

  • Kook die melk, brood en botter saam.
  • Braai die spek en uie tot ligbruin. Klits die eiers.
  • Roer al die bestanddele goed saam.
  • Bak in ‘n gesmeerde oondskottel vir ongeveer 35 minute by 180°C.

15.Sardyn Tert:

Bestanddele:

2 blikkies sardientjies

113g gerasperde beleë Cheddarkaas

5ml gekapte pietersielie

170g graanvlokkies

3 eiers, liggies geklits in 37.5ml melk

12.5ml suurlemoensap

sout en peper na smaak

brostertdeeg

5ml gekapte ui

Metode:

  • Voorverhit die oond tot 200°C.
  • Maak die sardientjies fyn en voeg res van bestanddele by.
  • Skep mengsel in ‘n uitgevoerde tertpan.
  • Bedek met uitgerolde brostert deeg.
  • Bak vir 15 minute en verminder dan die hitte na 180°C. Bak vir nog 15 minute.

16.Snoek Tert:

Bestanddele:

500g gerookte snoek

2 groot uie, in dun ringe gesny

45ml botter of margarien

125g Cheddarkaas gerasper

6 meduim aartappels, gekook, geskil, in skywe

sout en varsgemaalde swartpeper

1 groot tamatie, in skywe gesny

375ml room of dun witsous

15ml gerasperde Parmesaan of Cheddarkaas

125ml vars broodkrummels

klein bietjie botter of margarien.

Metode: 

  • Verwyder vel en grate en vlok die vis.
  • Braai uie in botter of margarien tot sag.
  • Plaas ‘n laag aartappels in ‘n gesmeerde oondskottel, voeg ‘n paar uieringe by en skep ‘n bietjie vis daarop. Strooi kaas bo-oor.
  • Geur met sout, indien nodig, en ‘n goeie skoot gemaalde peper.
  • Herhaal lae en eiendig met aartappels. Rangskik tamatieskywe bo-op.
  • Giet room of witsous oor en werk dit met ‘n kleinerige lepel deur tot op boom van skottel.
  • Meng res van kaas en broodkrummels, strooi bo-oor en stip met botter of margarien.
  • Bak ongeveer 35 minute lank by 180°C of tot goed warm en goudkleurig.

Volgende Resep: Vinnige Souttert

8 thoughts on “Souttert – 16 Maklike Souttert Resepte (KORSLOSE & BASIESE RESEPTE)

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *